VN trek sy neus op vir Rwanda-asielplan

Die Verenigde Nasies het Brittanje se wetgewing gekritiseer waarkragtens asielsoekers na Rwanda gestuur word, en sê dit is ‘n skending van menseregte. Die Veiligheid-van-Rwanda-wetsontwerp van verlede jaar sal ‘n uitspraak van die hof omseil wat sulke deportasies as onwettig verklaar het. Kragtens die wetsontwerp kan Britse regters Rwanda as ‘n veilige derde land beskou. Die VN vra ‘n herbeoordeling, en voer aan die wetsontwerp ondermyn geregtigheid en gelyke beskerming onder die wet, en sê die Verenigde Koninkryk moet sy internasionale verpligtinge nakom. Die wetsontwerp moet nog deur albei huise van die parlement goedgekeur word.