Silverstone bly nog 10 jaar in F1
Die Britse Grand Prix by Silverstone sal tot 2034 op die Formule Een-program bly. Die nuwe tien-jaar-ooreenkoms beteken die Northamptonshire-baan is in sy negende dekade nadat die heel eerste Formule Een Grand Prix in 1950 daar aangebied is. Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het reeds ‘n rekordgetal van agt Grand Prix-oorwinnings op Silverstone behaal. Die Formule Een-president, Stefano Domenicali, sê Silverstone is ʼn ikoniese renbaan waarheen geesdriftiges van regoor die wêreld stroom vir uitstekende wedrenne en ‘n unieke toeskouerservaring op die pawiljoene.