Elektriese voertuie sal inkomste kelder – Ipinge

Die Padfondsadministrasie het sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid om inkomste te verloor weens die verwagte oplewing in elektriese voertuie in Namibië. Die uitvoerende hoof Ali Iipinge, het dus beroep op wetgewers gedoen om proaktief navorsing te doen, te raadpleeg en beleide op te stel om Namibië voor te berei vir die oplewing in elektriese voertuie. Die administrasie se hoofbronne van inkomste is die brandstofheffing en die padgebruikerheffingstelsel. Met die opkoms van brandstofdoeltreffende voertuie het die entiteit besin oor hoe om maniere te vind waarop hy steeds inkomste kan genereer om die leemte wat geskep word, te vul. Een van daardie opsies was op ‘n stadium tolhekke maar die idee is vir eers laat vaar. ‘n Spesiale heffing vir elektriese voertuie word nou oorweeg.