Marcos gebruik staatshelikopter vir Coldplay-konsert
Die Filippyne se president Ferdinand Marcos Jr., het groot reaksie uitgelok vir sy gebruik van ‘n presidensiële helikopter om ‘n konsert deur die Britse rockgroep Coldplay noord van die hoofstad, Manila, by te woon. Die Philippine Arena, die wêreld se grootste binnenshuise arena, het ‘n toestroming van 40 000 konsertgangers ervaar wat gelei het tot verkeerskomplikasies op die roete. Dit het Marcos blykbaar genoop om die helikopter in te span. Maar lede van die publiek meen dit is openbare fondse wat vir privaatgebruik bestee is. Marcos se ouers het die Filippyne vir vier dekades regeer en die staatskas oor die jare geplunder met veral sy ma, Imelda se 3 000 pare skoene wat die media gehaal het.