Hersiening van kripto-verdagtes se saak

Die saak van 11 Chinese burgers, een Kubaan en drie Namibiërs wat aangekla word van ‘n kripto-bedrogsindikaat is teruggestuur na die landdroshof. Die beskuldigdes sê hulle is na die 48-uur drempel eers voor die hof gebring en hulle het ‘n dringende aansoek in die hoërhof in die verband gebring. Regter Philanda Christiaan het die saak terugverwys na die laerhof en sê die landdros wat die verskyning hanteer het moet dringend bepaal wat die status van die verdagtes is. Die saak moet hersien word en die regter het die beslissings van die laerhof in verband met die saak ter syde gestel. Volgens wat berig word, is daar gepoog om ‘n hersiening te hou maar, die beheer-aanklaer in die laerhof het vir uitstel gevra. Die kwessie sal nou Maandag hersien word. Die groep staar 98 klagtes in die gesig, ook van mensehandel.