Drie verskyn op Karibib na bokwagter met assegaai gesteek is

Drie vermeende veediewe sal na verwagting vandag in die hof op Karibib verskyn nadat hulle oor die naweek in hegtenis geneem is. Hulle staar ook klagte van poging tot moord en roof in die gesig. Daar word beweer die drie het ‘n bokwagter met ‘n assegaai in sy rug gesteek en met sy 100 bokke en 20 skaapramme weggekom. Die werker het 2 kilometer gestap na sy werkgewer wat hom na die hospitaal gehaas het. Hy is tans in ‘n kritieke toestand in Windhoek. Intussen is die polisie en die K-SAPU teenstroperyeenheid ingespan en ‘n boer in die gebied het sy girokopter ingespan en vinnig die diere opgespoor. Van die bokke is reeds geslag en twee assegaaie is ook by die mans gevind. Dit is  die derde keer wat so voorval in die Erongo-streek voorkom. ‘n Bokwagter is ook onlangs met pangas aangeval naby Usakos.