Komitee aangemoedig om onafhanklike insette oor uraan te kry
Boere is verdeeld oor die eksplorasie vir uraan in die Stampriet-bekken en die onlangse vergadering met die staande komitee van die parlement het gemengde reaksie ontlok. Die eksplorasie, wat veronderstel is om deur Uranium One in die Aminuis- en Leonardville-omgewing uitgevoer te word, is reeds ‘n geruime tyd in die nuus. Tjekero Tweya, die komitee se voorsitter, sê geen besluite sal in haas gemaak word nie. Intussen het die voormalige parlementslid, Atti Riruako, die komitee aangemoedig om inligting by onafhanklike kundiges te soek en dit te vergelyk met die kundiges wat gebruik word deur diegene wat die verkenning teenstaan voordat enige aanbevelings aan die parlement gemaak word. Daar is groot kommer oor die moontlike besoedeling van die waterbron waarop die hele gebied staatmaak.