De Ruyter se verslag was op ongeverifieerde inligting gegrond

Die Suid-Afrikaanse parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge moes hoor die intelligensieverslag wat deur die voormalige uitvoerende hoof van Eskom André de Ruyter gebruik is, is op ongeverifieerde inligting gegrond. Die afgetrede polisiebrigadier Jap Burger het voor die komitee verskyn. Hy was die aangewese polisiebeampte wat die bewerings deur De Ruyter hanteer het. Die intelligensieverslag het beweer netwerke van kriminele kartelle en mafias wat met hoëprofielpolitici verbind is, was besig om Eskom te saboteer en leeg te tap. Burger sê ondersoeke binne die polisiediens teiken die voetsoldate en nie die meesterbreine agter Eskom-misdade nie.