Selfmoorde hou net nie op nie
Namibië se hoë selfmoordkoers, die hoogste in Afrika, het weer na vore getree met drie gevalle wat deur die polisie gerapporteer is. Twee gevalle het reeds Sondag in Walvisbaai gebeur. In die eerste het die 29-jarige Kennedy Shikongo van Kabeljoustraat gesê hy voel nie lekker nie en besorgde familielede het hom na sy tannie geneem. Hy het na kerk glo gesê hy is moeg om sy kop teen ‘n muur te stamp en sy keel met ‘n mes probeer afsny. Familielede het hulp gaan soek, en met hul terugkoms hom aan ‘n tou om sy nek sien hang in een van die kamers. Hy was reeds dood. By huis nr. 5995 in James Brownstraat in Kuisebmond het ‘n huiseienaar gesien sy huurder, die 50-jarige Elifas Kalula, se deur staan oop en gaan ondersoek instel. Hy het Kalula van die dak sien hang, en dadelik die polisie ontbied, maar dit was te laat. Op die plaas Detsem op die Aroab-pad buite Keetmanshoop het ‘n gesoekte verdagte die polisie sien kom en die veld ingehardloop. Polisielede het sy liggaam gekry waar hy sy keel met ‘n mes afgesny het, en hy was reeds dood.