Groenland se gletsers smelt 5 keer vinniger

Aardverwarming het die tempo waarteen gletsers in Groenland smelt oor die afgelope 20 jaar vyfvoudig laat toeneem, volgens wetenskaplikes van die Universiteit van Kopenhagen. Groenland se yssmelting is veral kommerwekkend, aangesien die antieke yslaag genoeg water hou om seevlakke met minstens 6 meter op te stoot as dit heeltemal sou wegsmelt. ’n Studie van ’n duisend gletsers in die gebied toon die tempo van smelting het oor die laaste twee dekades ’n nuwe fase betree, volgens Anders Anker Bjork, assistent-professor by die departement van geowetenskappe en natuurlike hulpbronbestuur aan die Universiteit van Kopenhagen.