Alle oë op die staat se verweer, dis moontlik dieselfde man…
Daar is ‘n interessante dringende aansoek in die hoërhof vanoggend. Regter Eileen Rakow hoor Jianming Li se aansoek teen die minister van binnelandse sake Albert Kawana, onder andere aan. In sy stukke sê Li hy het op 18 September aansoek gedoen vir ‘n werkspermit om by Kudo Mining and Export se eksplorasiewerk naby Opuwo aan te sluit. Dit is op 10 Oktober gegun maar, toe hy op 8 November by Hosea Kutako aandoen, is hy as verbode immigrant gelys en toegang tot die land geweier. Hy vra in sy aansoek dat die beslissing ter syde gestel word. Maar, op 8 September verlede jaar is Jianming Li in die Opuwo-landdroshof skuldig bevind aan onwettige verblyf in die land. Daar is bevind hy het die land onwettig deur Katima Mulilo betree en op Opuwo gewerk het. Die hof op die dorp kon net bevestig hy is ‘n jaar tronkstraf of ‘n 10 000 Namibiese dollar se boete opgelê maar kon nie sê watter een die Li gekies het nie. Die staat het nog nie stukke ingedien nie maar dit wil voorkom asof dit een en dieselfde mens is, wat natuurlik dan geswartlys sal word deur immigrasie.