e-Leer kry hupstoot

Die DA in die Wes-Kaap loof die toewyding van die provinsiale onderwys-departement en die strewe na opvoedkundige uitnemendheid, met byna 850 000 leerders en 25 200 onderwysers wat nou by lewensbelangrike e-leer-hulpbronne ingeskakel is. Volgens die jongste jaarverslag is breëband-internet uitgebrei na 1 296 skole en 902 van hulle het ook ʼn Wi-Fi-netwerk. 9 981 slim klaskamers is by 806 skole ingerig. ʼn Woordvoerder van die DA, Deidré Baartman, sê hierdie maatreëls moet agterstande in die leerproses weens die pandemie versag en ondersteun die alles-loop-weer-reg-program in die provinsie.