Belangrike roete dalk na Rassie vernoem
Die Springbok super-ondersteuner Lubabalo Mpongoshe het ‘n formele aansoek ingedien by die Oos-Kaapse Provinsiale Geografiese Naamkomitee waarin hy voorstel die R75-roete in die provinsie moet vernoem word na Suid-Afrika se direkteur van Rugby, Rassie Erasmus. Die belangrike roete loop van Gqeberha na Despatch, wat Erasmus se tuisdorp is. Mpongoshe se motivering is gegrond op Erasmus se bydrae tot die bou van eenheid, sukses en transformasie in Suid-Afrikaanse rugby. Hy beklemtoon as ‘n afrigter het Erasmus waardevolle lesse in selfgeloof en eenheid oorgedra wat ‘n aansienlike impak gehad het.