Moord-verdagte ‘het ook eks-man probeer vermoor’
’n Australiese vrou wat aangekla word van moord op drie mense in ’n vermoedelike sampioenvergiftigingsaak word ook daarvan beskuldig dat sy by vier geleenthede haar eks-man probeer vermoor het. Erin Patterson is van drie aanklagte van moord en vyf van poging tot moord aangekla. Dit kom na ‘n middagete wat sy in Julie by haar huis in Leongatha, Victoria, aangebied het. In hofstukke beweer die polisie dat sy tussen November 2021 en September 2022 drie keer probeer het om haar vervreemde man, Simon Patterson, te vermoor. Die beweerde vierde poging was op die dag toe sy die dodelike beesvleis-Wellington-middagete aan sy ouers, tannie en haar man, Ian Wilkinson, bedien het. Simon Patterson het nie die ete bygewoon nie. Sy ouers en tannie is binne dae oorlede maar Wilkinson het herstel.