Vereniging behaal groot suksesse vir akkerbouers

Die Akkerbouprodusente-vereniging het groot suksesse in die afgelope tyd behaal. Volgens die jongste nuusbrief van die Namibiese Landbou-unie het die vereniging, in die teenwoordigheid van die Namibiese Akkerbouraad met die Graanverwerkersvereniging onderhandel om ‘n heffing van 3,6 persent by die koringprysformule van die 2022-23 bemarkingseisoen in te sluit. Dit het gelei tot ‘n uitbetaling aan produsente van 292 Namibiese dollar per ton met ‘n totaal van 7,1 miljoen dollar wat uitbetaal is. Hierdie heffing sal voortaan permanent deel wees van die koringprysformule. Produsente het in September 2023 ‘n terugbetaling van Namib Mills op vervoer ontvang ter waarde van 856 000 dollar vir die 2022-mieliebemarkingseisoen. Dit was as gevolg van ‘n verlaging in die vervoertarief van Otavi na Windhoek en sommige produsente wat direk aan Windhoek lewer.