Eerste 20 vragmotors met hulp sal Vrydag na Gaza vertrek
Die kantoor van Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hulle sal Egipte toelaat om beperkte hoeveelhede humanitêre hulp aan die Gaza-strook te lewer. Dié besluit is geneem in die lig van die Amerikaanse president, Joe Biden, se eis. Biden het met die media gepraat op Air Force One net voor hy Woensdagaand vertrek het.
Netanyahu se kantoor sê die humanitêre voorrade uit Egipte sal slegs kos, water en medisyne vir die burgerlike bevolking in die suidelike Gaza-strook wees. Netanyahu se woordvoerder sê egter, Israel sal nie voorrade vanaf sy eie grondgebied in Gaza toelaat nie, totdat die militante Hamas-groep alle gyselaars vrylaat.