Nampol waarsku oor ‘fop-beamptes’ wat bedrieg

Die Namibiese polisie het sy kommer uitgespreek oor bedrieërs wat hulle voordoen as polisiebeamptes. Die slenter het die afgelope tyd weer kop uitgesteek met lede van die publiek wat gedreig word met arrestasie in verband met boetes en meer. In die jongste voorval op Katima Mulilo, word lede van die publiek gedreig met arrestasie as gevolg van uitstaande onderhoudbetalings. In ‘n verklaring sê Nampol-woordvoerder adjunkkommissaris Kauna Shikwambi dat die polisie nie so te werke gaan nie en sal ook nie betaling deur middel van selfoon-toepassings of kontant, eis nie. Sy sê sulke voorvalle moet dringend by die naaste polisiestasie aangemeld word.