Rusland wil weer by Menseregteraad aansluit
Russiese diplomate probeer volgens berigte dat die land weer vir ʼn driejaar-termyn tot die Verenigde Nasies se Menseregteraad verkies word. Moskou is in April verlede jaar ná sy inval in Oekraïne uit die raad geskors. Rusland sal volgende maand in die verkiesing met Albanië en Bulgarye meeding vir die twee setels op die raad wat vir lande in Sentraal- en Oos-Europa uitgehou word. Die jongste verslag van die VN se onafhanklike internasionale ondersoekkommissie oor Oekraïne onthul nuwe bewyse van oorlogsmisdade wat Russiese magte in Kiëf gepleeg het.