Oermense was toe nie so dom soos ons gedink het nie
Navorsing uit Zambië toon dat die mensdom reeds 476 000 jaar gelede hout gebruik om te bou. Langs die oewer van die Kalamborivier in Zambië het argeoloë twee stompe van die grootvrug-boswilgerboom opgegrawe wat byna ‘n halfmiljoen jaar gelede gekerf, gevorm en saamgevoeg is. Die navorsers sê die artefakte, verteenwoordig die oudste bekende voorbeeld van mense – in hierdie geval ‘n spesie wat ons eie voorafgegaan het – wat houtstrukture gebou het. Dit dui daarop dat ons voorgangers meer vernuf aan die dag gelê het as wat voorheen gedink is. Die stompe, aangepas met behulp van klipgereedskap, blyk deel te wees van ‘n raamwerk vir ‘n struktuur, ‘n gevolgtrekking wat teenstrydig is met die idee dat mense op daardie tydstip eenvoudig deur die landskap rondgejaag en hulpbronne versamel het.