2014-klagtes teen Lombaard vir nou teruggetrek
Die landdroshof op Mariental het voorwaardelik die klagtes teen Johan Lombaard van Golden Game CC teruggetrek. Dit volg na hy op 12 September op Gobabis verskyn het op die klagte van die vang en vervoer van wildebeest sonder ‘n permit, 50 000 Namibiese dollar se borg toegestaan is en toe weer gearresteer is. Volgens die omgewingsministerie se woordvoerder Romeo Muyunda hou die jongste arrestasie verband met soortgelyke klagtes maar die beweerde oortreding het in 2014 plaasgevind. Nie die hof op Mariental, nog Muyunda, kon sê watter diere in 2014 na bewering onwettig gevang en vervoer is nie. Die saak is blykbaar teruggetrek as gevolg van ‘n administratiewe fout, nie ‘n onvoltooide ondersoek nie.