Vermeende pedofiel Maree se verhoor begin vandag

Die verhoor van die vermeende pedofiel, Johann Maree, sal vandag voorkom in die Windhoekse hoërhof nadat die staat ‘n nuwe regshulp-prokureur aangestel het om hom te verteenwoordig. Meriam Kandoni vervang Tuna Nhinda, wat aan regter Philanda Christiaan gesê het Maree se instruksies is onhoudbaar. Maree het op 14 Augustus in die Windhoekse hoërhof verskyn waartydens Kandoni aangedui dat sy gereed sal wees om met die verhoor te begin wat van  vandag tot Vrydag sal duur. Verdere verhoordatums is ook geskeduleer vir 24 tot 27 Oktober en weer van 6 tot 10 November. Die 52-jarige voormalige polisieman staar 75 aanklagte in die gesig. Maree is in 2020 in hegtenis geneem op klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het.