Savanna: N$193m ingesamel van 712 produsente
Altesaam 712 plaaslike beesprodusente het 193,52 miljoen Namibiese dollar in Savanna Beef belê. Produsente besit dus 96,8 persent van die maatskappy. Dit is die finale uitslag nadat die derde en laaste venster vir beleggers vir die beplande abattoir op 7 September gesluit het. Daar word berig die aandeelhouers het in totaal slagbeurte vir 48 380 beeste ontvang, met die slagaanleg wat 50 000 beeste per jaar sal kan slag teen die tyd wat dit volle kapasiteit bereik. As aandeelhouers sal hierdie boere voorkeur vir slagbeurte kry. Tydens die laaste beleggingsrondte het plaaslike beesprodusente net minder as 20 miljoen dollar belê. Bydraes is gemaak deur bestaande beleggers wat meer geld belê het, met 39 nuwe beesprodusente wat tot die geleentheid toegetree het.