74 matrieks kry voedselvergiftiging, DA eis ondersoek
Die DA in Gauteng eis ʼn onmiddellike ondersoek nadat 74 matriekleerders aan die Wes-Rand in die hospitaal beland het omdat hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het. Die leerders van Fochville Secondary School, Badirile Secondary School en Wedela Technical School het ʼn matriekkamp bygewoon toe hulle maagkrampe en diarree gekry het. ʼn DA-woordvoerder, Sergio Isa Dos Santos, sê dis onaanvaarbaar dat matrieks wat vir hul eindeksamen voorberei, nou weens nalatigheid in die hospitaal is.