4 000 Beagles van mediese eksperimente gered, soek nou huise

Byna 4 000 Beagle-hondjies is op soek na nuwe huise na wat vermoedelik een van die grootste hondereddingspogings ooit in die VSA is. Die honde is by ‘n fasiliteit in Virginia geteel wat hulle aan laboratoriums verkoop vir toetse en eksperimente om nuwe medisynes te ontwikkel. Die Humane Society werk reeds meer as ‘n jaar aan die saak en die fasiliteit wat deur Envigo RMS besit word, is in Mei deur die Amerikaanse departement van justisie gedagvaar vir talle klagte van dieremishandeling. Die hondjies word nou medies behandel voordat hulle vir aanneming beskikbaar gestel sal word. Die goeie nuus is dat 200 reeds in Kalifornië aangeneem is.