Die Nasionale Vergadering sal openbare verhore oor aborsie hou en volgens die woordvoerder van die parlement, David Nahogandja, sal die datums nog bepaal word. Die kwessie van aborsie het weer in 2020 na vore getree en meer as 62 000 Namibiërs het ‘n petisie onderteken ter ondersteuning daarvan terwyl ‘n petisie wat teen dit gekant is, 15 000 handtekeninge gekry het. Nahogandja het bevestig dat ‘n derde petisie vanaf Omaheke se koalisie van kerke ook ontvang is maar daar is op 20 September deur die parlementêre staande komitee op familie-aangeleenthede beslis dat net die twee grootste petisies in ag geneem sal word. Die regshulpsentrum sê onwettige aborsies is algemeen in Namibië en dat dit moontlik tussen 12 en 16 persent van moedersterftes jaarliks kan bydra.