Groot mielieoes plaas druk op meulenaarsJune 24, 2025

Akkerbouers is optimisties oor die komende oesseisoen met ‘n verwagte nasionale mielieoes van sowat 71 000 ton, meer as dubbel soveel as verlede jaar, en ‘n produsenteprys van meer as 6 800 Namibiese dollar per ton. Terselfdertyd word groot koringaanplantings op die Hardapskema voorsien nadat dié dam genoeg water gekry het met ‘n stewige stand van 72 persent. Agriforum berig dat Namib Mills se internasionale handelkenner Arwil Viviers sê ‘n akkurater oesskatting deur akkerbouers en die Namibiese Akkerbouraad is noodsaaklik vir  beplanning. Hy sê Namib Mills wil binnekort satelliettegnologie vir die doel in span. Hy voeg by dat sodra die nasionale oes 60 000 ton oorskry, is bergingskapasiteit ‘n uitdaging en moet ons silosakke gebruik. Terselfdertyd gaan die verwagte oes van 24 000 ton mahangu ‘n druk op maalkapasiteit plaas.