Golden Game, Antje Nauhaus bemiddel na helikopter-ongelukJune 3, 2025

Die nadraai van die noodlottige helikopter-ongeluk op 17 Julie 2023 by die Swakopmund-vliegveld is steeds nie afgehandel nie. Die 54-jarige vlieënier Jacques Jacobs en die 29-jarige lugvaartingenieur Dirk von Weidts het in die ongeluk gesterf. Golden Game van Mariental dagvaar Antje Nauhaus en Namibia Base Aviation vir net meer as 6,7 miljoen Namibiese dollar, vir sy Robinson 44 helikopter wat neergestort het tydens ‘n toetsvlug. Bemiddeling begin môre tussen die maatskappy en Nauhaus, met Jana-Marie Barkhuizen as bemiddelaar. Golden Game voer aan Namibia Base Aviation het ‘n permit sowel as ‘n registrasie-sertifikaat vir die helikopter as roepsyn V5-HGG bekom, maar die dokumente is deur Nauhaus vervals. Alternatiewelik is onderhoud aan die helikopter nie korrek gedoen nie. Nauhaus, wat by Namibia Base Aviation gewerk het, is aangekla van onder andere bedrog, vervalsing en oortredings van die burgerlike lugvaart-wetgewing.