Ma en stiefpa gearresteer na baba van voertuig gegooi isJune 2, 2025

Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord ná ‘n babadogtertjie van 18 maande na bewering Saterdag uit ‘n bewegende voertuig gegooi en ernstig beseer is. Die voorval het tussen vieruur en vyfuur die middag op die pad tussen Outjo en Kalkveld gebeur. Na verneem word, was ‘n boer en een van sy werkers, sy meisie en ‘n baba op pad terug plaas toe ná hulle inkopies op Outjo gedoen het. Die paartjie was glo dronk en het agter op die bakkie begin baklei. Die boer het gestop en hulle berispe. Toe hulle verder ry, het die boer glo in sy spieëltjie gesien hoe die baba van die bakkie afgegooi word. Hy het dadelik gestop, die ma het die bewustelose baba opgetel en hulle het teruggejaag na die staatshospitaal op Outjo. Die baba is in ‘n kritieke toestand na die staatshospitaal in Windhoek oorgeplaas. Die polisie het die ma en die stiefpa in hegtenis geneem, aangesien hulle in dié stadium nie weet wie die baba van die bakkie afgegooi het nie.