NamWater sluit N$1,5 miljard leningsooreenkoms vir water-infrastruktuurMay 21, 2025

Namwater en die Duitse ontwikkelingsbank, KfW, het ‘n 1,5 miljard Namibiese dollar konsessie-leningsooreenkoms onderteken om die tweede fase van die Namibië Watersektor-ondersteuningsprogram te finansier. NamWater se uitvoerende hoof, Abraham Nehemia, sê die ooreenkoms is ‘n bepalende oomblik in nasionale infrastruktuurontwikkeling. Die finansiering sal gebruik word om noodsaaklike grootmaat-waterinfrastruktuur te bou en op te knap, veral in die sentrale noordelike en noord-oostelike streke. ‘n Vlagskipinisiatief is die Omundaungilo na Omutsegwonime grootmaat pypleidingskema, waar ‘n nuwe 130km-lange waterpypleiding gebou sal word. Dit sal water verskaf aan sowat 27 000 mense in die Ohangwena- en Oshikoto-streke. Die ontwerpe en boddokumente vir die Schwarzekuppe na Swakopmund- en die Omdel na Wlotzkasbaken pypleidingvervangingsprojekte word ook gefinaliseer.