Imalwa poog om fondse te bevries na roof van toeristeMay 20, 2025
Die aanklaer-generaal Martha Imalwa het aansoek gedoen vir die bevriesing van net meer as 51 000 Namibiese dollar in ‘n bankrekening van Nehemia Philipus. In haar stukke sê sy owerhede glo dit is gesteelde buitelandse valuta by ‘n lodge by Sossusvlei waar Philipus werksaam, en aan diens ten tyde van die diefstal, was. Een van sy kollegas is reeds gearresteer. Die reël nisi is vir vandag voor regter Lotta Ambunda gestel en Philipus het sy verklaring ingedien waar hy aandui dat dit sy fooitjies in buitelandse valuta was wat hy direk ontvang het. Die lodge het aan owerhede bevestig fooitjies in buitelandse valuta word nie direk aan werknemers betaal nie en word deur die lodge self in Namibiese dollar omgeskakel. Die saak kom vanmiddag voor.