Kauta bring dringende borgaansoek vir Mac HengariMay 3, 2025

Plaaslike media berig dat die afgedankte landbouminister, Mac Hengari, se regspan by Weder, Kauta & Hoveka ‘n dringende borgaansoek na sy inhegtenisneming verlede naweek, gebring het. Sy prokureur, Patrick Kauta, het Vrydag geëis dat aanklaers hom voorsien van ‘n klagstaat wat verband hou met Hengari se inhegtenisneming oor ‘n beweerde poging om die vrou wat hom van verkragting beskuldig het, om te koop. Kauta versoek ook duidelikheid oor die gronde waarop die Staat van voorneme is om borg teen te staan, tesame met afskrifte van alle dokumente en materiaal wat hy beplan om tydens die borgtogverhoor voor te lê. Kauta voer ook aan die polisie het dit duidelik aan Hengari gestel dat DNS toetse bewys die betrokke kind is nie syne nie. Hy eis die uitslae van die toetse teen volgende week Woensdag om vier-uur. Hengari het Maandag in die hof verskyn en sy saak is uitgestel tot 3 Junie.