Sê wat? Pers is nie werklik ‘n kleur nie! Dis ‘n pigment van jou verbeeldingApril 16, 2025
Glo dit of nie, maar die kleur pers bestaan nie regtig nie. Dis nie omdat daar iets verkeerd is met jou oë nie, dis net jou brein wat ‘n bietjie verward raak en besluit om ‘n nuwe kleur te “maak” wanneer dit nie weet wat om met rooi en blou te doen nie.
In wetenskaplike terme lê rooi en blou aan teenoorgestelde kante van die ligspektrum. Daar is geen regte golflengte vir pers soos daar vir ander kleure is nie. So, wanneer jou brein beide rooi en blou lig op dieselfde tyd waarneem, weet dit nie wat om daarmee te maak nie. Wat doen dit dan? Dit “buig” die spektrum en verbind die twee uiterstes in ’n sirkel. En daar is pers – ‘n slim breintruuk!
Nou, moenie pers verwar met violet nie. Violet het sy eie golflengte en is dus ’n “regte” kleur op die spektrum. Dis dieselfde tipe lig wat van die Son af kom en UV-strale bevat wat jou vel laat brand. Pers, daarenteen, is ’n mengsel. ’n Resultaat van jou brein se poging om sin te maak van iets wat nie wetenskaplik sin maak nie.
Ons oë gebruik drie tipes keëls om lig waar te neem: kort (S), medium (M) en lang (L) golflengtes. Blou en violet val onder S, groen en geel onder M, en rooi en oranje onder L. Wanneer jou oë rooi én blou lig opvang, word beide S- en L-keëls geaktiveer. In plaas daarvan om vas te haak, kry die brein dit reg om die spektrum in ’n sirkelvorm te “herbedink” — en skielik sien jy pers!
So ja, pers is nie ’n kleur in die klassieke sin nie. Dis ’n optiese illusie, ’n verbeeldingsvlug van jou brein. En tog… ons is almal mal daaroor. Ironies, nè? ’n Kleur wat nie werklik bestaan nie, maar tog universeel geliefd.

Foto verskaf