NamWater beplan nie om watertariewe te verlaag nieApril 15, 2025

NamWater sê in ‘n verklaring hy beheer nie die finale watertariewe wat op verbruikers gehef word nie, want hy werk op kosteverhaling en nie vir wins nie. Die tariewe word deur plaaslike owerhede bepaal, maar NamWater self beplan nie om sy tariewe te verlaag nie. Dit kom na bespiegeling dat watertariewe verlaag kan word omdat damme se vlakke aansienlik gestyg het. NamWater sê sy tariewe is vir meer as vyf jaar nie verhoog nie, ondanks beduidende styging in bedryfsinsette, veral elektrisiteit, en die chemikalieë wat nodig is vir waterbehandeling. Reënval lei dikwels tot hoër troebelheidsvlakke, veral in die noorde, wat selfs meer behandeling en addisionele chemikalieë benodig. Die toenemende bedryfskoste kan toekomstige aanpassings noodsaak om die voortgesette volhoubaarheid en betroubaarheid van watervoorsieningsdienste te verseker.