Amushelelo kry boete van N$5 000, of ses maande tronkstrafApril 9, 2025
NEFF-aktivis Michael Amushelelo is ‘n boete van 5 000 Namibiese dollar of ses maande tronkstraf opgelê vir minagting van die hof. Regter Doris Hans-Kaumbi het ‘n bykomende twee jaar tronkstraf beveel indien hy weer aan minagting van die hof in daardie periode skuldig bevind word. Sy het die uitspraak gelewer na sy hom Maandag skuldig daaraan bevind het. Regslui vir die aansoeker, luitenant-generaal Joseph Shikongo, het vroeër ook net vir ‘n boete gevra omdat dit Amushelelo se eerste oortreding is. Op sy beurt het Amushelelo gesê hy is jammer en het onkunde gepleit. Hy sê hy is werkloos en sorg vir sy nege-jarige dogter, twee klein hondjies en sy bejaarde ouers met die hulp van goeie mense. Hy het gevra vir ‘n boete van 300 dollar. Hy was sedert Maandagaand in aanhouding.