SA-egpaar wat blykbaar miljoene gesteel het, vra vandag vir borgFebruary 13, 2025

Twee Suid-Afrikaanse burgers, die 45-jarige Antoinette Arp en haar man die 47-jarige Morne Arp sal vandag in die Karasburg laerhof verskyn. Dit kom na hulle blykbaar 3,35 miljoen Namibiese dollar gesteel het by die Engen-vulstasie op Noordoewer. ‘n Lasbrief vir hulle seun Henry George is ook uitgereik maar hy is nog soek. Die egpaar het vier jaar as bestuurders daar gewerk en die diefstal is einde November verlede jaar ontdek. Hulle is verlede week op Keetmanshoop gearresteer en het reeds daar in die landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding maar sal na verwagting vandag ‘n formele borgaansoek bring. Die staat het reeds aangedui hulle sal borg teenstaan omdat die twee dubbele burgerskap het en ‘n vlugrisiko is.