Bejaarde man deur vloedwater meegesleur in Windhoek

Die suidelike dele van Windhoek is vanmiddag deur ‘n wolkbreuk getref. In Okondekastraat in Kleine Kuppe is 80mm gemeet terwyl dit steeds sag gereën het. Verskeie laagwaterbrue en paaie was onbegaanbaar en ‘n ligte voertuig is in Sean McBridestraat in Auasblick deur die Gammamsrivier meegesleur. Superintendent Marcelline Murapo van die Windhoek Stadspolisie het bevestig dat ‘n soektog van stapel gestuur is na die bestuurder. Die sowat 90-jarige man het glo op die kar se dak geklim om te probeer ontsnap en het weggespoel. By Farm Windhoek is ‘n leë minibus-taxi en sleepwa uit die parkeerarea gespoel. Die wolkbreuk het glo na die Brakwater-omgewing beweeg.