Seuns, 13 en 8, steel pa se baas se FortunerApril 24, 2023

Die Namibiese polisie sê twee minderjarige seuns, 8 en 13, het hul pa se werkgewer se wit Toyota Fortuner-voertuig Vrydagnag gesteel op die plaas Kaliombo, in die Karibib-distrik. Die twee seuns het volgens die mag Vrydag op ‘n naburige plaas deurgebring in hulle skool-uniforms met gemaksklere onder aan. Vrydagnag het hulle die voertuig gesteel en na Karibib gery maar blykbaar by die dorp se padblokkade-terrein oornag en eers daglig in die dorp aangekom. Hulle is deur lede van die publiek gewaar waar hulle rondgery het met vriende in die motor. Die polisie is ingeroep en die voertuig is gevind met skade aan die voorste buffer. Die 13-jarige verdagte is aangekla vir die diefstal van ‘n voertuig en in sy ouers se sorg vrygelaat, terwyl owerhede nog advies by maatskaplike werkers inwin oor die agt-jarige.