100 Waterberg-buffels te koop

Die Namibiese omgewingsministerie is genoop om 100 buffels van die Waterberg Plateau-park te verkoop. Volgens die woordvoerder, Romeo Muyunda, het die park op die oomblik 400 diere wat verby sy dra-kapasiteit is. Die diere word in vier groepe van 25 aangebied en word beskryf as diere met uitstekende genetika. Die diere kan glad nie in Namibië se kommersiële gebied hervestig word nie as gevolg van vrese oor bek- en klouseer. Volgens Muyunda sal bieërs moet bewys dat hulle die diere wel in hulle onderskeie gebiede kan hervestig. Alle veeartseny-bepalings moet ook streng nagekom word.